BADISA is 'n aangewese kinderbeskermingsorganisasie wat die statutêre verpligting het om kinders te beveilig ingevolge die Kinderwet.
BADISA het 52 maatskaplikewerkkantore wat prioriteit gee aan alle aanmeldings van beweerde kinderverwaarlosing, -molestering en –mishandeling.
Dit beteken dat die maatskaplike werkers oor die vaardighede moet beskik om kinders en gesinne te assesseer, hofverslae op te stel en voor te lê aan die kinderhof.
Kinders wat verwaarloos of mishandel is, word by veiligheidsouers, in veiligheidshuise, pleegsorg of kinder-en jeugsorgsentrums(kinderhuise) geplaas.
Die maatskaplikewerkkantore skep veiligheidsnetwerke in die gemeenskappe om kinders te beveilig en om ouers en kinders by te staan.
Die maatskaplikewerkkantore bied lewensvaardigheidsprojekte aan vir die kinders en jeug wat gekombineer word met sporten kultuuraktiwiteite om hulle te bemagtig tot beter lewenskeuses.
Die jeug in veral die arm gemeenskappe moet die uitdagings van swak skoolvordering, tienerswangerskappe, dwelmmisbruik, kriminele gedrag en werkloosheid oorkom met die hulp van BADISA.
Die personeel van BADISA hou kampe, talentkompetisies, sportbyeenkomste en bewusmakingsveldtogte vir die kinders en jeug.
BADISA het ses Kinder-en jeugsorgsentrums (kinderhuise) waar kinders en jeugdiges binne 'n residensiële program versorg word totdat hulle herenig kan word met hul gesin of familie.
Die kinders of jeugdiges word binne 'n gestruktureerde en terapeutiese omgewing blootgestel aan 'n verskeidenheid aktiwiteite op geestelike, sosiale en opvoedkundige vlak.
Die program fokus op die unieke sterktepunte van elke individu om sy/haar potensiaal optimaal te ontwikkel.
BADISA het ook 'n straatkindprogram wat spesifiek fokus op dienslewering aan straatkinders.
BADISA het ook naskool fasiliteite om vir kinders kos te voorsien, hulle te beveilig en hulle by te staan met skoolwerk.